Lipwurm, bo-lipbos, brommerhok, lipkwas of sommer net in gewone Afrikaans, ’n snoor.
Elke jaar neem mans oor die wêreld deel aan ’n tradisie waar die snoor die gespreekspunt word: Movember.
Movember vind jaarliks in November plaas, en mans word aangemoedig om snorre te groei vir ’n goeie doel. Maar het jy al ooit gewonder wat dié doel eintlik is?
Die konsep agter Movember dateer terug na 2003, toe twee Australiërs, Travis Garone en Luke Slattery, wat geïnspireer was deur ’n vriend se ma wat geld ingesamel het vir borskanker, op ’n soortgelyke idee afgekom het terwyl hulle in ’n kroeg gesit en ’n bier geniet het. Hulle wou bewusmaking skep rondom gesondheidskwessies wat mans in die gesig staar. In die eerste jaar het slegs 30 mans in Australië deelgeneem. Vandag is daar al byna 7 miljoen mense wêreldwyd wat aan Movember deelgeneem het (Movember.com, 2025).
Hoekom is dit belangrik om mans se gesondheid te bevorder?
Mans is oor die algemeen minder geneig om mediese hulp te soek as vroue. Die doel van Movember was van die begin af om mans aan te moedig om die gesprekke te hê wat hulle dikwels vermy.
In 2015 is die Men’s Foundation in Suid-Afrika gestig om die beplanning van Movember plaaslik te ondersteun. Die groep fokus op bewusmaking van drie groot gesondheidsprobleme wat mans dikwels ignoreer:
- Prostaat- en testikulêre kanker
- Depressie
- Selfmoord
(homemakersonline.co.za, 2025)
’n Paar statistieke oor mansgesondheid in Suid-Afrika
• In Suid-Afrika leef mans gemiddeld sewe jaar korter as vroue. Hulle soek dikwels te laat mediese hulp weens druk van die samelewing en vrees vir die ergste.
• Volgens ’n studie deur die Men’s Foundation en die Kanker Alliansie word verwag dat prostaatkanker teen die 2030’s een van die mees algemene kankers onder mans sal wees — ’n toename van tot 140% in vergelyking met die 2000’s. Ongeveer 1 uit 16 mans sal dit waarskynlik in hul leeftyd kry.
• Testikulêre kanker het die afgelope tien jaar byna ’n verdubbeling in aangemelde gevalle getoon.
• Gemiddeld pleeg 18 mans daagliks selfmoord in Suid-Afrika, dikwels weens faktore soos finansiële druk en emosionele spanning.
(homemakersonline.co.za, 2025)
Hoe help ’n snoor nou eintlik?
Deur vir die maand van November ’n snoor te groei, kan jy nie net bewusmaking skep nie, maar ook fondse insamel. Die geld wat jy spaar deur vir ’n maand nie te skeer nie, kan geskenk word aan ’n organisasie wat mansgesondheid ondersteun.
Nog belangriker: jou snoor kan die gesprek begin. Moedig jou vriende aan om gereeld toetse te doen en oor hul gesondheid te praat onthou, vrae vra is vry.
Of jy nou ’n aanhanger is van die handlebar, die sersant-snor, of net ’n eenvoudige lipwurm groei om saam te doen, begin hierdie maand die regte gesprekke met jou vriende.
(premiermedicalhv.com, 2025)


