Tydens Oktobermaand vier ons Pienk-tober. ‘n Maand waarin ons bewusmaking skep rondom borskanker en fokus op hoe belangrik dit is om proaktief te wees met die voorkoming daarvan.
Borskanker is iets wat dikwels eers raakgesien word wanneer dit reeds te laat is.
Volgens die Nasionale Kankerregister (NCR, 2023) het 1 uit elke 27 vroue in Suid-Afrika ‘n risiko om iewers in haar lewe aan borskanker te ly. Dit maak borskanker een van die hoof-oorsake van kanker onder vroue van alle rasse (CANSA, 2023).
Vroeë tekens van borskanker
Baie simptome van borskanker kan ook by nie-kankerige toestande voorkom, daarom is dit belangrik om eers ‘n dokter te besoek as jy enige van die volgende opmerk, eerder as om self te diagnoseer:
- Verandering in die grootte of vorm van die borste
- Verdikking van die vel rondom die tepel
- Inwaartse draaiing van die tepels
- Vel wat dikker of dimpelrig raak op of rondom die borste
- Knope of vergroeisels onder die arms
Ongeveer 10% van mense met borskanker toon geen sigbare vergroeisels nie.
Dis dus belangrik dat vroue ouer as 40 gereeld selfondersoeke doen én mamogramme laat neem.
Onthou: jy ken jou liggaam die beste, as iets nie reg voel nie, laat dit eerder nagaan.
(Breast-Cancer, n.d.)
Kan mans ook borskanker kry?
Een van die grootste mites is dat slegs vroue borskanker kan kry.
Tussen 1- 3% van alle borskanker-gevalle in Suid-Afrika kom egter by mans voor.
‘n Man met ‘n familiegeskiedenis van borskanker het sowat ’n 2,5% groter kans om dit self te ontwikkel.
Volgens navorsers word borskanker by mans dikwels geassosieer met Klinefelter-sindroom, ‘n genetiese toestand waar daar abnormale chromosome voorkom.
(Can-a-man-get-breast-cancer, n.d.)
Hoe word borskanker opgespoor?
Daar is verskeie maniere om borskanker vroeg te identifiseer. Hier is ‘n paar belangrike metodes:
- Selfondersoek: Voel en kyk gereeld vir enige veranderinge of simptome.
Doen dit elke maand op dieselfde dag, sodat jy veranderinge maklik kan raaksien.
- Kliniese ondersoek: ‘n Dokter luister na jou simptome en verwys jou indien nodig vir verdere toetse.
- Mamogram: ‘n Mamogram is ‘n X-straalondersoek wat vanuit twee hoeke geneem word om enige afwykings op te spoor.
Gereelde mamogramme kan die risiko van sterftes as gevolg van borskanker by vroue oor 40 aansienlik verminder.
- Ultraklank: Dikwels gebruik ná ‘n mamogram om abnormaliteite of infeksies beter te evalueer.
Hierdie metode word ook by jonger vroue gebruik.
- MRI (Magnetic Resonance Imaging): Skep ‘n 3D-beeld van die borste om te onderskei tussen normale en abnormale weefsel.
Tydens die prosedure word ‘n kleurstof in die bloedstroom ingespuit om die beelde duideliker te maak.
(How-can-I-check-for-breast-cancer, n.d.)
Dis belangrik om altyd na jou liggaam te luister en ’n dokter se advies te volg as iets nie reg voel nie.
Hierdie Pienk-tober, neem verantwoordelikheid vir jou gesondheid. Doen jou selfondersoek en moedig ander aan om dieselfde te doen.
Laat ons Oktober gebruik om borskankerbewustheid te verhoog en lewens te red.
Bronne
breast, M. (s.j.). What are the symptoms of breast cancer. Herwin van My Breast: https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/what-are-the-symptoms-of-breast-cancer/
can-a-man-get-breast-cancer. (s.j.). Herwin van mybreast: https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/can-a-man-get-breast-cancer/
CanSA. (2023). Breast Cancer. Herwin van CanSA: https://cansa.org.za/breast-cancer/
how-can-i-check-for-breast-cancer. (s.j.). Herwin van mybreast: https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/how-can-i-check-for-breast-cancer/


